In 2021 het ons paaie onverwags gekruis tydens ’n kuier saam met vriende—’n oomblik wat my lewe stilweg sou verander. Die eerste keer toe ek vir Minette sien, het sy my asem weggeslaan, asof die wêreld vir ’n oomblik net om haar gedraai het.
Ek het alles in my vermoë gedoen net om daardie glimlag van haar te sien. En toe sy begin lag, het iets in my hart stilweg verander. Sonder dat ek dit eers besef het, het sy die belangrikste plek in my hart begin inneem.
Ek het geweet ek kon dit nie net daar los nie. Met ’n bietjie moed het ek haar nommer gevra—net sodat ek haar weer kon sien.En as ek vandag terugkyk was daardie aand die begin van alles, die begin van ons vir altyd.
Op 6 September 2025, tussen die Drakensberge, het ons verloof geraak.
Dit was een van daardie dae waar die weer sy eie planne gehad het—wind wat waai, donderweer in die verte, en later net genoeg son wat deurbreek om ons op pad te kry. Ek het nie regtig iets vermoed nie, net gedink dit is nog ’n mooi dag saam in ’n mooi plek.
Ons het begin stap na ’n plek waar hy gesê het ons kan gaan piekniek hou. Ek het eers later besef die “kort stappie” was eintlik 3 km… in plakkies. Maar op daardie stadium was ek net gelukkig om saam met hom daar te wees.
Toe ons by die bestemming aankom, het hy stilweg ’n bottel wyn uitgehaal—dieselfde een wat ons op ons eerste vakansie saam in die Kaap gekoop het. Ons het altyd gesê ons sal dit bêre vir iets spesiaal.
Dit was toe, in daardie oomblik, dat hy die bottel neersit, op een knie gaan, die ring uithaal en vra:
“Minette Fivaz, sal jy my die gelukkigste man maak en asseblief met my trou? Sal jy asseblief my vroutjie wees?”
Met die wind wat steeds waai en my oë vol trane, het ek sonder twyfel ja gesê en sommer net in sy arms geval.
Dit was net ons twee, met die berge wat ons omring en ’n paar Elande wat rustig naby staan as stil getuies van ons oomblik.